Total Pageviews

Wednesday, August 10, 2011

Ek - net ek

Goeie middag Pappa

Ek wonder hoekom dit my so lank neem om dinge te snap, wat dit van my kop en ore reg na die kern van my wese sak? U geduld met ons is darem regtig ver bo my begrip en verstom my elke dag.

Ons word vandag so gebombardeer met inligting. Dit is 7 stappe van die en 6 wette van daai en 10 gewoontes van so. Elke opinie in die wêreld word bespreek en beskryf en beboek en beblog en bewebwerf. Ons is soos die Grieke van ouds wat alles debateer het en alles toegelaat het, maar tog verwag het dat almal dieselfde is op die einde van die dag.

So is ons selfs in die kerk. Die een bring die "resep" uit vir 'n suksesvolle kerk en ALMAL volg die boek. Daardie een sê dit is die pad om te volg en slaaf volg ons dit. Dan is daar iemand met die regte manier van bid en die regte manier van projekte hanteer en die kerk soos 'n besigheid hanteer en soos skape hardloop ons almal agterna.

Kom daar iemand wat sê ons moet weer bietjie dink en luister vir onsself en persoonlik met U praat, dan word daardie persoon omtrent uit die kerk gegooi oor sy of haar radikale gedagtes.

 Op einde van die dag is ons soos die tieners, hoe harder ons probeer om anders te wees hoe meer lyk en dink en praat ons almal dieselfde. Die vormpie word gemaak en ons doen alles in ons vermoë om binne daardie vormpie te pas. Hoe meer ons in die vormpie pas, hoe ongelukkiger word ons, met 'n konstante hinkering na iets, maar weet nie wat nie.

Tog is dit nie wat U vir en van ons wil hê nie. U vier ons uniekheid. U verheug U oor ons individuele persoonlikheid. U verbly U oor U skepping, elkeen persooonlik en by die naam. Handgemaak en besonders. Nie 'n industriële loopband waarop vormpie na vormpie uitgedruk word nie, almal dieselfde en eenders nie.

U wil net hê ek moet ek wees. Met my eie gawes en talente en samestelling.
U wil hê ek moet my eie persoonlikheid in elke ding wat ek doen en aanpak afstempel.
U verwag nie van my om anders te wees, of soos ander te wees of te konformeer nie.
U verwag net dat ek U Woord gehoorsaam, in 'n persoonlike verhouding met U moet staan en my eie mens wees uitlewe in dit wat U op my hart sit.

Al wat U wil hê  is dat ek, ek moet wees.

Hoe lank het dit nie geneem om by die bevrydende besef uit te kom nie.
Ek kan maar ophou studeer en die "antwoord" vind en eerder net my algemene kennis uitbrei deur verskillende opinies en uitgange te bekyk en dan voor U voete kom sit en weet U gaan my laat doen soos dit reg is vir my.

Dankie dat U my geskep het - net soos ek is.
Dankie dat U my gebruik - net soos ek is.
Dankie dat U stil verheug is oor my - net soos ek is.
Dankie dat U skeppingskrag deur my werk - net soos ek is.
Dankie dat U nie my persoonlikheid, my gawes of talente verander nie, maar dit net meer en meer in U beeld vorm - elke dag.

U unieke dogter