Total Pageviews

Wednesday, January 26, 2011

NS: Abba U praat elke dag met my in die gewone

Hello Abba Pappa

Dit is weer ek. Ek dink nog na oor ons vorige gesprek en toe onthou ek van Job en hoe U aan hom beskryf het waarin U gevind kan word. Nou is ek nog meer verstom oor U grootsheid en U - wat is die woord - Goddelikheid en Almagtigheid.

Dankie Abba

Job 38
1 Toe het die Here vir Job aangespreek uit 'n stormwind uit:
2 “Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie?
3 Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My.
4 Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het.
5 Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het 'n maatlyn oor hom gespan?
6 Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom aanmekaargesit
7 daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het?
8 Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel het?
9 Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak.
10 Ek het vir hom perke gestel, hom agter slot en grendel gesit.
11 Ek het gesê: ‘Tot hiertoe mag jy kom, nie verder nie; hier is die grens van jou magtige golwe.’
12 “Het jy, Job, in jou tyd die môre beveel om te kom? Weet jy waar die daeraad vandaan kom,
13 die daeraad wat lig oor die hele aarde bring sodat die goddeloses nie in die donker kan bly skuil nie?
14 Met die daeraad word die vorm van die aarde sigbaar, dit neem vorm aan soos klere wat aangetrek word.
15 Dan word die goddeloses hulle bestaan ontneem en word hulle geweld beëindig.
16 Het jy, Job, al gekom by die plek waar die seewater uitborrel, en rondgestap op die bodem van die diepsee?
17 Het jy die ingang van die doderyk gesien, die plek van donkerte al bekyk?
18 Kan jy 'n beeld vorm van die groot wye wêreld? Praat as jy iets daarvan weet.
19 Hoe loop die pad na die plek waar die lig woon? En die donkerte, waar is sy woonplek?
20 Kan jy die donkerte na sy gebied toe terugvat? Ken jy die paaie na sy woongebied toe?
21 Jy moet dit weet, jy wat maak of jy toe al gebore was, of jy 'n lang lewe agter die rug het.
22 Was jy al by die plek waar die sneeu gebêre word? Het jy al die plek gesien waar die hael gebêre word,
23 wat Ek opgegaar het vir 'n tyd van rampe, vir die dag as Ek wil oorlog voer?
24 Hoe loop die pad na die plek toe waar die lig sy oorsprong het en die oostewind oor die aarde begin waai?
25 Wie het vir die stortreën 'n pad oopgekap en vir die donderwolke hulle koers bepaal
26 sodat dit reën in 'n land waar nie mense is nie, in 'n woestyn waar niemand woon nie
27 en 'n droë, dor land deurnat word, sodat daar groen gras uitspruit?
28 Het die reën 'n vader? Wie het die doudruppels in die wêreld gebring?
29 Wie bring die ys te voorskyn? Wie bring die ryp in die wêreld?
30 Die water word so hard soos klip, selfs die oppervlakte van die diepsee verys.
31 Sou jy die Sewester met 'n band kon vasknoop of die band van Orion kon losmaak?
32 Kan jy die sterre op hulle tyd laat opkom, kan jy die Beer met sy kleintjies laat uitkom?
33 Weet jy hoe die hemelliggame werk? Stel jy hulle invloed op die aarde vas?
34 Kan jy jou stem tot by die wolke hoorbaar maak sodat stortreën jou oordek?
35 Kan jy weerligstrale uitstuur dat hulle vir jou kom sê: ‘Hier is ons’?
36 Wie gee verstand aan die ibis om teen die vloed te waarsku of wie gee insig aan die haan om die dag aan te kondig?
37 Wie het die kennis om genoeg wolke bymekaar te bring, om hierdie waterkruike van die hemel om te keer
38 wanneer die grond kliphard is en daar net groot kluite lê?
Job 39
1 “Kan jy vir 'n leeu sy prooi vang? Kan jy vir hom genoeg gee om te eet
2 wanneer hy in sy skuilplek gereed lê, op die loer lê agter 'n bos?
3 Wie gee vir 'n kraai die kos wat hy nodig het wanneer sy kleintjies om hulp roep na God, rondskarrel vir iets om te eet?
4 Ken jy die tyd wanneer die klipspringers lam? Staan jy en kyk waar die wildsbokke kleintjies kry?
5 Kan jy vir hulle die draagtyd bepaal, weet jy presies wanneer hulle moet lam?
6 Hulle trek inmekaar, die bokkies word gebore, die geboortepyne is gou verby.
7 Die lammers groei en word groot in die veld, hulle gaan weg en kom nie na die ooie toe terug nie.
8 “Wie gee aan die wildedonkie sy vryheid en laat hom ongebonde vryloop?
9 Ek het vir hom die oop veld gegee om in te bly die brakbossies om in te wei.
10 Hy bekommer hom nie oor die gewoel in die stad nie, hy hoef nie te luister na die geskreeu van 'n drywer nie.
11 Hy deurkruis die berge vir weiding, hy snuffel elke groen sprietjie uit.
12 “Sal die buffel gewillig wees om vir jou te werk? Sal hy deur die nag by jou krip bly staan?
13 Kan jy hom inspan en ploegvore met hom trek? Kan jy hom lei om die land agter jou te eg?
14 Sal jy jou op hom verlaat vir sy reusekrag? Sal jy dit aan hom oorlaat om vir jou 'n oes te lewer?
15 Sal jy op hom vertrou om jou graan te oes en op jou dorsvloer bymekaar te bring?
16 “Die vlerke van die volstruis klap vrolik net soos dié van die ooievaar en die valk,
17 maar sy lê haar eiers op die grond en broei hulle uit op die sand.
18 Sy dink nie daaraan dat hulle stukkend getrap kan word nie, dat wilde diere haar eiers kan breek nie.
19 Sy maak haar kuikens hard groot, asof hulle nie haar eie is nie; as haar moeite dan tevergeefs was, skrik dit haar nie af nie.
20 God het nie vir haar wysheid gegee nie, sy het geen verstand nie,
21 maar wanneer sy met vlerke omhoog hardloop, lag sy die perd en sy ruiter uit.
22 “Gee jý vir die perd sy krag, sit jý vir hom maanhare aan?
23 Het jý gemaak dat hy kan spring soos 'n sprinkaan, dat hy almal bang maak met sy trotse gesnork?
24 Hy kap die grond met sy pote en trippel rond, met krag skiet hy vorentoe, die geveg in.
25 Bang wees bestaan vir hom nie, hy skrik nie, hy deins nie terug vir oorlog nie.
26 In die koker aan sy sy ratel die pyle, die spies en die swaard blink in die son.
27 Opgewonde en oorgehaal kap-kap hy die grond, hy kan nie wag vir die blaas van die trompet nie.
28 By die blaas van die trompet runnik hy, hy weet die geveg kom, hy ken die offisiere se bevele en hulle krygskrete.
29 “Is dit deur jou insig dat 'n valk vlieg, dat hy sy vlerke na die suide toe span?
30 Is dit op jou bevel dat 'n aasvoël hoog opvlieg en sy nes in die hoogte gaan bou?
31 Hy woon op die rotse, hy bly daar, op die spits en die kranse.
32 Van daar af soek sy oë na kos, van ver af sien hy dit.
33 Sy kuikens vreet bloederige vleis, en waar iets doodgaan, is hy.”
34 Die Here het verder vir Job gesê:
35 “Wil jy 'n saak maak teen die Almagtige en Hom bestraf? Wil jy vir God teregwys? Antwoord Hom dan!”
36 Job het toe vir die Here gesê:
37 “Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe sou ek U kon antwoord? Ek sal liewer stilbly.
38 Ek het gepraat, maar ek kon nie 'n antwoord vind nie, ek het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly.”
Job 40
1 Die Here het weer vir Job aangespreek uit die stormwind uit:
2 “Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My.
3 Wil jy my beslissing tot niet maak? Wil jy My skuldig verklaar sodat jy vrygespreek kan word?
4 Het jy die mag wat Ek het? Kan jy jou stem uit die onweer laat hoor soos Ek?
5 Tree dan op met jou trots en jou groot mag, handel in jou majesteit en heerlikheid.
6 Laat brand dan jou gloeiende toorn, sien elke trotsaard raak en sit hom op sy plek,
7 sien elke trotsaard raak en verneder hom, trap die goddeloses plat.
8 Begrawe hulle almal, lê hulle weg in die graf.
9 Dan sal Ek teenoor jou erken dat jy jou deur jou eie mag kan red.
10 “Kyk die seekoei: Ek het hom gemaak toe Ek jou gemaak het, hy vreet gras soos 'n bees.
11 Daar is krag in sy liggaam, die spiere in sy lyf is sterk.
12 Sy stert is so reguit soos 'n seder. Sy boudspiere is inmekaar gevleg.
13 Die bene in sy lyf is soos bronspype, soos stukke yster.
14 Onder alles wat Ek gemaak het, staan hy eerste, net sy Maker kan hom verslaan.
15 Die berge lewer vir hom die water en al die wilde diere speel daar.
16 Hy lê tussen waterplante, hy skuil tussen die riete in die moeras.
17 Die skaduwee van die waterplante is sy skuiling, rondom hom is rivierpopuliere.
18 As die rivier sterk word, skrik dit hom nie af nie, hy bly rustig al styg die Jordaan hoe hoog.
19 Wie kan hom van voor af pak, wie kan 'n vangtou aan sy neus sit?
20 “Kan jy 'n krokodil met 'n hoek vang of hom 'n tou in die bek sit?
21 Kan jy 'n lyn deur sy neus steek of sy kakebene met 'n hoek vastrek?
22 Sal hy jou soebat om genade of by jou mooipraat?
23 Sal hy 'n ooreenkoms met jou aangaan om vir altyd jou slaaf te wees?
24 Sal jy hom kan mak maak soos 'n voëltjie of kan jy hom met 'n lyn vasmaak vir jou dogtertjies?
25 Sal handelaars oor 'n prys vir hom kan kibbel? Sal hy onder kopers verdeel kan word?
26 Sal jy harpoene deur sy vel kan gooi of hom met 'n haak aan die kop kan vang?
27 Pak hom gerus met kaal hande: jy sal die geveg onthou, jy sal nie weer probeer nie.
28 Jy sal die slegste daarvan afkom. Wanneer jy hom sien, is jy al klaar oorweldig.
Job 41
1 “Hy is wreed as jy hom wakker maak. “Wie wil dan nog teen Mý standhou?
2 Wie wil aan Mý eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My.
3 “Ek wil nog verder praat oor die krokodil, oor sy krag en sy liggaamsbou.
4 Wie kan sy bek oopmaak? Wie kan met 'n toom naby sy tande kom?
5 Wie kan sy kakebene oopbreek, sy kakebene met die verskriklike tande?
6 Op sy rug lê die skubbe in rye vas aan mekaar gesluit:
7 die een so teen die ander dat die wind nie daardeur kan waai nie;
8 die een is vas aan die ander, hulle kleef aan mekaar en kan nie geskei word nie.
9 As hy nies, spat die vonke, sy oë is so rooi soos die daeraad.
10 Daar kom vuur uit sy bek, die vonke waai deur die lug.
11 Daar trek rook uit sy neusgate, soos uit 'n kokende pot op 'n vuur.
12 Sy asem steek vure aan, daar skiet vlamme uit sy bek.
13 Daar is groot krag in sy nek; wie hom sien, word deur angs oorval.
14 Sy vleis is saamgepak asof dit aan hom gegiet is, dit gee nie mee nie.
15 Sy hart is so hard soos klip, so hard soos 'n maalklip.
16 Sterkes vlug as hy die water roer. By die eerste rimpeling gee hulle pad.
17 Wie hom met die swaard steek, rig niks uit nie, ook nie met 'n spies, 'n pyl of 'n assegaai nie.
18 Yster is vir hom soos strooi, brons soos vrot hout.
19 Met pyl en boog jaag jy hom nie op die vlug nie, klippe uit 'n slingervel is vir hom niks nie.
20 Aan 'n knopkierie steur hy hom nie, hy lag as 'n swaard op hom afkom.
21 Die skubbe aan sy onderkant het punte soos potskerwe, soos 'n dorsslee maak dit merke op die modder.
22 Hy laat die diep water kook soos in 'n pot, hy laat die water van die meer skuim.
23 Agter hom lê 'n blink streep op die water, lê die diep water wit van die skuim.
24 Op die grond is niemand sy gelyke nie, hy is 'n ondier sonder vrees.
25 Hy kyk met minagting na diere groter as hy, hy is baas selfs oor al die groot diere.”
Job 42
1 Daarna het Job vir die Here gesê:
2 "Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit.
3 Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom sonder dat hy die insig gehad het? Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie.
4 U het mos gesê: Luister terwyl Ek praat, Ek sal vra, antwoord jy My.

No comments:

Post a Comment